2 vroue gaan op ysterperde ander leer oor water - Fanie van Rooyen BEELD

Twee vroue van Rustenburg wat die afgelope vyf jaar “huisloos” was terwyl hulle landwyd 17 000 km op hul fietse afgelê het, het ’n nuwe reis aangepak. Dié keer gaan hulle sowat 23 000 km op Yamaha-motorfietse deur Suid-Afrika en sy buurstate reis om bewustheid oor waterbewaring te bevorder. “Tydens ’n vorige reis het ons op die Vaalrivier geroei en gesien hoe erg besoedel die water is,” het me. Maria Botha (29) by die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) in Scientia, Pretoria, waar dié tog onlangs begin het, gesê. Botha en me. Liani Broodryk (38), saam bekend as die Ripples for Good-span, gaan gedurende hul ses maande lange reis talle gemeenskappe langs riviere besoek om waterbewaring en die veilige gebruik van water te bevorder. “Ons is verskriklik lief vir ons land en sy natuurskoon en op dié manier kan ons iets teruggee,” het Botha gesê. “Daar is tans nie genoeg samewerking tussen gemeenskapslede, waterbronbestuurders en die relevante regeringsdepartemente en munisipalitei- te nie. Ons hoop om gedurende ons reis afgeleë gemeenskappe in verbinding te bring met die regte departemente of organisasies om hul plaaslike waterbronne te help bewaar.” Gedurende hul reis sal hulle, met die ondersteuning van me. Martella du Preez, mikrobioloog van die WNNR, gemeenskappe bewus maak van ’n baie basiese biotegnologie om water te ontsmet bekend as die Sodis-metode. “Al wat jy doen, is vul ’n helder plastiekbottel met 1 liter of 2 liter water, skud die bottel en los dit dan vir ses uur lank in direkte sonlig,” het Du Preez gesê. “Die sonstrale laat al die skadelike bakterieë vrek en die water is dan drinkbaar.” Dié metode kan volgens haar veral in Suid-Afrika se sonligryke, afgeleë gebiede van groot waarde wees. Botha en Broodryk se reis­lewe het sowat vyf jaar gelede begin toe hulle een aand gesit en kuier het. “Ek het besluit ek is moeg vir die rat race en dat ek my goed gaan oppak en gaan reis,” het Broodryk gesê. “Maria het byna onmiddellik gesê sy gaan saam. Ons wou iets buite die normale doen.” Sedertdien het hulle op fietse, kano’s en te voet vir onder meer kinderwelsyn en dierebeskerming geld ingesamel en Suid-Afrika van hoek tot kant leer ken. “Ons reis al vyf jaar lank en ons het magical mense ontmoet. Ons het regtig ’n land om op trots te wees,” het Botha gesê. Die Ripples for Good-span bestaan eintlik uit vier lede, want Botha en Broodryk se twee Jack Russell-honde, Katryn en Dante, reis al saam met hulle vandat die hondjies maar vier maande oud was. ) Vir meer inligting, besoek www.ripplesforgood.com.